"Twee Diewe" deur CHARL-PIERRE NAUDE [boodskap #49500] |
Wo, 05 September 2001 11:16 |
|
Oorspronklik gepos deur: @home.com
TWEE DIEWE
Charl-Pierre Naude
Dit was die dag waarop ek al my besittings verloor het.
Besteel, rot en kaal, totaal onverwags.
Deur twee vreemdelinge, 'n jong vrou en 'n dogtertjie.
Daar was 'n waarskuwing uit oor hierdie nuwe taktiek.
Hulle gebruik onskuldiges, en oorval jou dan van agter.
Ek het die sagte geklop aan my voordeur gehoor.
Soos 'n Besoeking, van oorkant die groot skeidslyn.
'n Toets natuurlik, of iemand tuis was of nie.
Ek het gewag vir die klank van die breekysters,
'n broodmes in my hand.
Tot die gelag, die kristal sakrament, verdwyn het.
In 'n fladdering, soos twee duiwe wat uit 'n sysak ontsnap.
Maar ek het op my hoede gebly. Dis wat ek nie verstaan nie.
Ek't die waarskuwing ernstig opgeneem. Ek het geweet
hulle sal terug wees.
Maar dit alles het my nie gevrywaar teen die bedrog nie.
Ek het die deur oopgemaak, mes agter my rug.
Hulle het amper moed opgegee, het die vrou gesê.
Haar dogter wil graag 'n blaar van my boom hê, omdat
dit silwer is.
Ek het verby hulle gespeur, vir die gevaar
wat agter skuil, die rede vir die lokval.
Hulle was brandarm, maar ryklik gekroon met hulle glimlagte.
Vra God vir 'n blaar, dis Sý boom, sê ek nors.
'n Ander man wou ons skiet, het die kind trots gesê,
totaal onbewus dat sy dan dood sou wees.
Ek het gekyk hoe hulle wegstap, geklee in hul klanke.
Moeder en dogter. Met hul blaar, hulle wonderwerkie.
Niemand het my aangeval. Niks meer het gebeur nie.
Behalwe dat ek die wil verloor het om enige iets te besit.
En verloor jy die wil, verloor jy absoluut alles.
Hulle het my kaal gestroop, daardie twee diewe.
|
|
|